Streeksnuus Donderdag 03/09/2026
# Dwelmvervaardigingsaanleg naby Jericho ontdek
# Hoëspoedjaagtog eindig met ontdekking van R300 000 se dagga
# Twee in hegtenis geneem met vermoedelik gesteelde voertuig
# Die Noordwes-polisie het ‘n 62-jarige man in hegtenis geneem nadat hulle ’n onwettige dwelmvervaardigingsaanleg op ’n plaas naby Jericho ontdek het. Die polisie het op 2 September gereageer op inligting van gemeenskapslede oor ’n sterk chemiese reuk en verdagte aktiwiteite op die plaas. Toerusting, chemikalieë, grondstowwe en vermoedelik voltooide produk, wat moontlik kristalmetamfetamien is, is gekonfiskeer. Drie ander verdagtes het in die bosse gevlug en is steeds op vrye voet. Die 62-jarige verdagte verskyn vandag in die Brits-landdroshof. Die provinsiale polisiekommissaris, luitenant-generaal Arthur Peter Adams, het die gemeenskap geloof vir die inligting wat tot die ontdekking gelei het.
# ’n Hoëspoedjaagtog deur die strate van Potchefstroom het Woensdag geëindig met die inhegtenisneming van ’n verdagte en die beslaglegging van 28 sakke dagga ter waarde van sowat 300-duisend rand. Polisie en privaatsekuriteit het gereageer op inligting oor ’n bakkie wat glo vir dwelmvervoer gebruik word. Die bestuurder het verskeie rooi verkeersligte geïgnoreer voordat hy by ’n restaurant teen ’n heining vasgery en deur die polisie aangekeer is. Die verdagte verskyn Maandag in die Potchefstroom-landdroshof op ’n aanklag van dwelmhandel. Polisie het die samewerking tussen hulself en privaatsekuriteit geloof en gesê intelligensiegedrewe optrede en samewerking is noodsaaklik om misdaad te bekamp.
# Twee mans is vroeg gisteroggend naby Bloemhof in hegtenis geneem nadat hulle met ’n vermoedelik gesteelde voertuig betrap is. Lede van die Rapid Rail-eenheid het die verdagte wit bakkie op die N12 tussen Bloemhof en Wolmaransstad onderskep. Die voertuig se VIN-nommer het nie met sy registrasie ooreengestem nie en die verdagtes kon ook nie geldige dokumentasie toon wat hul verblyf in die land bevestig nie. Hulle verskyn vandag in die Bloemhof-landdroshof op aanklagte van die besit van ’n vermoedelik gesteelde voertuig en oortreding van die Immigrasiewet. Noordwes se polisiekommissaris, luitenant-generaal Arthur Adams, sê die suksesvolle onderskepping beklemtoon die belangrikheid van sigbare polisiëring in die stryd teen misdaad.
# en ten slotte…Die Suider-Afrikaanse Agri-inisiatief, Saai, het boere aangespoor om vroeg voor te berei vir ‘n moontlike droë plantseisoen in 2026/2027. Dit volg ná waarskuwings oor hoë temperature en droogte wat verband hou met El Niño-toestande. Die voorsitter van Saai, Theo de Jager, sê boere moet hul aanplantings, begrotings en watergebruik noukeurig beplan, en moet ook voorberei vir die verhoogde risiko van brande. De Jager sê boere benodig betroubare weerinligting en vroegtydige ondersteuning om die moontlike uitdagings wat voorlê te bestuur.